Thursday, 2 January 2014

Trane van vreugde, want hoop en geloof word nie beskaam nie...

2 Januarie 2014 is 'n datum wat ek waarskynlik lank sal onthou.  Ek het lanklaas iets hier geskryf.  Die lewe loop sy loop en mens bly besig.  Maar vanaand moet ek deel, want die vreugdegevoel wat ek dra kan ek onmoontlik vir myself hou.

En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk,
en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop;
en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

Rom 5:3-5

Ek het vanaand, soos feitlik elke ander aand die afgelope 6 en 'n half maande so om en by nege uur kombuis toe gegaan om my ma se voetbad reg te kry.  Terwyl die voetbad afkoel haal ek die verband af en masseer die voet en toon waar die gangreen al merkbaar afgeneem het.  Die area is al kleiner, maar daar sit nog 'n dikkerige kors van dooie vel waaronder daar dikwels etter uitgekom het, maar die laaste tyd nie meer so baie nie.  En die kors het al hoe losser begin word.  So die vraag wat lankal knaag is, wat is onder daardie dooie vel?  Is dit heel, is dit rou, is dit gesond, is dit dalk 'n gat ingevrot en weggevreet deur die gangreen?  Ek het bly vasklou aan die hoop dat daar nuwe vel onder die dooie vel ingroei en dat dit die rede is waarom die kors begin loskom.  Maar daar was geen manier om te weet nie.  Dis 'n beproewing van, en les in, geduld!  

Wel, my liewe vriende, vandag na die voetbad het ek die mooiste ding gewaar.  Die stuk dooie vel is los, baie los, nie genoeg om al af te gaan nie, maar uiteindelik los genoeg om op te lig.  Onder die dooie vel:  nuwe, gesonde, perfekte vel!  Genesing!  Trane van vreugde kan ek nie keer nie.  Wanneer mens 'n alternatiewe roete volg as tradisionele medisyne, is dit soms 'n baie eensame pad.  Hoeveel mense ken julle wat 'n voetbad maak met ... murgpampoene?  Ja.  Korrek.  Murgpampoentjies.  Zucchini.  Noem dit wat jy wil.  Waar is die mense wat jou sal moed inpraat met die versekering dat hierdie kuur vir hulle gewerk het?  Wel, ek weet nie van een enkele so persoon nie.  Ons het raad gevolg van 'n geneeskundige in 'n ander land wat glo genesing geskied deur die regte kosse te eet.  En wat voetbaddens en kompresse aanbeveel wat mens in jou eie kombuis kan maak sonder enige eksotiese of medisinale bykomstighede.  Ons enigste kommunikasie deur middel van e-pos.

Dis 'n pad wat ons in geloof aangepak het.  'n Pad waar ons mekaar dikwels moet moed inpraat.  'n Pad waarin ek myself telkens moet herinner om my oë op Jahshua te hou en nie op die golwe nie.  Daar was 'n dag wat ek die fotos gaan uitpluk het net om visuele versekering te hê dat die wond tóg besig is om kleiner te word.  Dankie tog vir daardie goue stukkie raad om gereeld fotos te neem, dit het ons konkrete bewys gegee dat daar tog verbetering is op 'n dag wat ons werklik baie moeg en moedeloos was. 

Dis weliswaar nog nie die einde van hierdie pad nie.  Daar is nog altyd die kanker wat knaag en vele vraagtekens laat.  Maar vanaand wil ek die onsekerhede opsy skuif en net fokus op die wonder van gangreen wat genees.  Met vreugde in die hart en 'n innige gebed van dankbaarheid.

Ek wil die Naam van God prys met ‘n lied en Hom groot maak met danksegging.
Psa 69:31