Sunday, 28 July 2013

Wanneer die vlees swak is




En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê:  My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan;  nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.  En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus:  So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie?  Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.  Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.  Mat 26:39-41 

Soms, veral wanneer die vlees swak is en jy voel oorweldig, wonder mens onwillekeurig hoekom sekere dinge oor jou pad gebring word.  Kon die lewe nie maar voortgegaan het soos "normaal" nie?  Kon hierdie beker van beproewing ons nie maar verbygegaan het nie?

Tog, in jou hart weet jy reeds wat die antwoord op daardie vraag is.  Die Pottebakker is besig om intens te werk met die klei.  Dis 'n proses van verandering en vernuwing.  Dis 'n tydperk waarin mens opnuut leer om totaal op Vader te steun.  Dis 'n proses wat slegs plaasvind wanneer ons swak is en ons wil oorlaat in ons Skepper se Hand.  


En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want My krag word in swakheid volbring... Daarom het ek behae in swakhede...want as ek swak is, dan is ek sterk.  2 Kor 12:9-10

Thursday, 25 July 2013

My wil?



Vandag sit ek en wonder oor hoeveel keer ons iets doen vir ander, met die beste bedoelings, maar dis glad nie wat daardie persoon wil hê of nodig het nie.

Hoeveel keer dink ons dat ons goed doen vir iemand, maar in werklikheid het ons dade die teenoorgestelde effek?  Neem ons werklik mekaar in ag, of doen ons ons "goeie dade" soos dit ons pas?  

Die teenoorgestelde geld ook.  Wanneer iemand vir ons iets doen, waardeer ons dit na waarde? Of is ons ongelukkig omdat hulle dit vandag doen en nie gister toe ons dit eintlik wou gehad het nie? 

Soms, of dalk dikwels, het ons as mens, as selfgesentreerde mens, die vermetelheid om ondankbaar te wees wanneer iemand uit sy pad uit gaan om moeite vir ons te doen, want dit het nie by ons eie agenda vir die dag ingepas nie.  

1Th 5:18  Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God...