Friday, 15 August 2014

Versterkte stede


Mure en torings rondom die ou dorpie, Rothenburg, Duitsland.



Wanneer mens jouself in Europa en ander ou lande bevind, vind mens ook talle ou dorpies, gewoonlik op heuwels, met sterk, hoë mure omring.  Daar is wagposte waar wagte kon uitkyk vir gevaar.  In kort, mure bied weerstand en beskerming teen aanslae van buite, van die vyand.   Indien die wagte wakker is word die inwoners van die dorpie betyds gewaarsku wanneer daar gevaar is en hulle kan hul voorberei en gereed wees op die aanslag.  Vanaf die muur kan geveg word teen die vyand, in relatiewe veiligheid.  Indien die stad nie ommuur of bewaak is nie, kan die vyand lustig amok maak binne die vesting. 
Dit laat my dink aan ons geestelike lewe.  

Die weg van die Jahweh is vir die opregte ‘n vesting, maar ‘n ondergang vir die werkers van ongeregtigheid.    
Spreuke 10 : 29

En hy het gesê:  Jahweh is my rots en my bergvesting en my redder;  God is my rots by wie ek skuil;  my skild en die horing van my heil, my rotsvesting en my toevlug, my verlosser;  van geweld het U my verlos.  
 2 Samuel 22 : 2 - 3

In Vader Jahweh is ons toevlug, ons skuiling, ons beskerming, ons rus.  Ons verhouding met Vader is soos die vesting se mure wat ons moet bou en in stand hou.  En net soos ‘n soldaat in tyd van vrede opgelei word om te veg, so moet die stede herstel en versterk word, en mure gebou word in tye van rus en vrede.  Daar is geen tyd tydens aanslae om te leer veg nie, of om ‘n verhouding met Jahweh op te bou nie.  Ons moet geoefen moet wees in die wapenrusting van God (Efes 6) vóór die aanslag.  Ons moet die mure bou en versterk vóór die vyand aanval.

En Abía het ontslaap met sy vaders en is begrawe in die stad van Dawid, en sy seun Asa het in sy plek koning geword.  In sy dae het die land tien jaar gerus.  En Asa het gedoen wat goed en reg was in die oë van Jahweh sy God:  hy het die vreemde altare en die hoogtes verwyder en die klippilare stukkend gebreek en die heilige boomstamme omgekap en aan Juda gesê om Jahweh, die God van hulle vaders, te soek en om die wet en die gebod te doen.  Ook het hy uit al die stede van Juda die hoogtes en die sonpilare verwyder, en die koninkryk het gerus onder hom.  Verder het hy versterkte stede gebou in Juda, want die land was rustig; en daar was geen oorlog teen hom in daardie jare nie, omdat Jahweh hom rus verskaf het.  Daarom het hy aan Juda gesê:  Laat ons hierdie stede opbou en met ‘n muur omring en met torings, poorte en grendels, terwyl die land nog vry voor ons lê;  want ons het Jahweh onse God gesoek—ons het gesoek, en Hy het ons rus verskaf rondom.  Hulle het toe gebou en was voorspoedig.
2 Kronieke 14 : 1 – 7

Belangrik om te let is watter mure ons bou, watter stede ons versterk.  Is dit ‘n verhouding met Vader Jahweh of met die wêreld?  So seker as wat die vyand ons mure gaan aanval en beproef, so seker kan ons ook weet dat énige wêreldse vesting waaraan ons help bou sal verseker eendag deur Jahweh afgebreek word.   

Al sou Babel in die hemel opklim, en al sou hy die hoogte van sy vesting versterk—van My af sal verwoesters oor hom kom, spreek die Jahweh.   
Jeremia 51 : 53

Tye van rus is juis tye wat Vader aan ons bied om ons verhouding met Hom te versterk.  Ongelukkig is tye van rus, wanneer alles goed gaan, ook die tye wanneer ons neig om ons verhouding met ons Skepper te verwaarloos, dis die tye wanneer ons so maklik vergeet en afdwaal.  Ons moet onthou dat die wêreld ons as gelowiges voortdurend dophou.  Hulle wag vir die dag van onheil sodat hulle ons en ons Skepper kan verneder, spot en verkleineer.  Wanneer ons ons verhouding met Jahweh verwaarloos, verswak die mure van ons geestelike weerstand en dit bied die vyand maklike toegang.  Dit maak ons ‘n voorwerp tot smaad.

Daarop sê ek vir hulle: Julle sien die nood waar ons in is, dat Jerusalem woes lê en sy poorte met vuur verbrand is;  kom, laat ons die muur van Jerusalem opbou, dat ons nie langer ‘n voorwerp van smaad kan wees nie.  En ek vertel hulle van die hand van my God wat goed was oor my, en ook van die woorde van die koning wat hy my gesê het.  En hulle sê:  Ons sal ons klaarmaak en bou!  En hulle het hulle hande sterk gemaak vir die goeie werk.
Nehemia 2 : 17 - 18

Jahweh sal elke stryd vir ons stry, mits ons by Hom en in Hom bly.  Dan kan Sy sterkte deur ons geopenbaar word in die wêreld en word Hy verheerlik in elke oorwinning oor die Bose.  Nie deur ons krag nie, maar deur Vader Jahweh se krag alleen.  

Ek skryf aan julle, vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af is. Ek skryf aan julle, jongmanne, omdat julle die Bose oorwin het. Ek skryf aan julle, kinders, omdat julle die Vader ken.
Ek het aan julle geskrywe, vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af is. Ek het aan julle geskrywe, jongmanne, omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het.

Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.  En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.
1 Johannes 2 : 13 – 17



Asa het gedoen wat goed en reg was in die oë van Jahweh sy God: hy het die vreemde altare en die hoogtes verwyder en die klippilare stukkend gebreek en die heilige boomstamme omgekap en aan Juda gesê om Jahweh, die God van hulle vaders, te soek en om die wet en die gebod te doen.  Ook het hy uit al die stede van Juda die hoogtes en die sonpilare verwyder, en die koninkryk het gerus onder hom.  

Verder het hy versterkte stede gebou in Juda, want die land was rustig;  en daar was geen oorlog teen hom in daardie jare nie, omdat Jahweh hom rus verskaf het.  Daarom het hy aan Juda gesê: Laat ons hierdie stede opbou en met ‘n muur omring en met torings, poorte en grendels, terwyl die land nog vry voor ons lê;  want ons het Jahweh onse God gesoek—ons het gesoek, en Hy het ons rus verskaf rondom.  

Hulle het toe gebou en was voorspoedig.
2 Kron 14 : 1 - 7

No comments:

Post a Comment