deur John Piper
“Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel ’n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig. Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. ’n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en ’n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring. En op sy Naam sal die heidene hoop.”
Mat 12:18-21, gekwoteer uit Jesaja 42
Die Vader se siel jubel met blydskap oor Sy Seun se diensknegtelike
sagmoedigheid, deernis en medelye.
Wanneer ’n riet geknak en op die punt is om te breek, sal
die Kneg dit sagkens regop hou totdat dit genees. Wanneer ’n lamppit rook en skaars enige hitte
oor het, sal die Kneg dit nie afknyp nie, maar met ’n bakhand beskerm en
sagkens blaas totdat dit weer brand.
Daarom roep die Vader uit, “Kyk, my Kneg in wie my siel ’n
welbehae het!” Die waarde en die
skoonheid van die Seun is nie afkomstig slegs van Sy majesteit nie, ook nie
slegs van Sy deernis en medelye nie, maar van die wyse waarop hierdie
eienskappe saamsmelt in perfekte verhouding met mekaar.
Wanneer die engel uitroep in Openbaring 5:2, “Wie is waardig om die boek oop te maak en
sy seëls te breek?” kom die antwoord, “Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is,
die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls
te breek” (Openbaring 5:5).
God het die sterkte en krag van die Leeu van Juda
lief. Daarom ag God Hom waardig om die
boeke van die geskiedenis te open en die laaste dae te ontvou.
Maar hierdie is nog nie die hele prentjie
nie. Hoe het die Leeu oorwin? Die volgende vers beskryf Sy voorkoms: “En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier
lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ’n
Lam asof Hy geslag is” (Openbaring 5:6). Jesus is die Vader se verlustiging waardig,
nie net as die Leeu van Juda nie, maar ook as die Lam geslag.
Hierdie is die eiesoortige glorie van Jesus
Christus, God se vleesgeworde Seun – die verstommende verwewing van majesteit
en deernis.
John Piper is stigter en
leeraar van desiringGod.org asook die kansellier van Bethlehem College &
Seminary. Hy het die Bethlehem Baptiste Kerk in Minneapolis vir meer as dertig
jaar as pastoor bedien en is die outeur van meer as vyftig boeke. Sy preke,
artikels, boeke, ens. Is gratis beskikbaar by desiringGod.org.
Vertaling van The Lion and the Lamb, Solid Joys daaglikse oordenking, 31 Augustus 2021.
© Desiring God Foundation. Bron: desiringGod.org.
No comments:
Post a Comment