Sunday, 25 August 2013

Om liefde uit te lewe




Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie.  Romeine 14:21

So saam met die gesondheidsdieët het hierdie gedagte baie sterk tuisgekom by my.  Ek vra myself immers af, hoe voel die persoon wat op die dieët is wanneer die res almal van die "lekker" kos eet?  Wanneer sekere van mens se gunsteling maaltye geskuif word na die kategorie "mag-nie-geëet-word-nie", en dit word voorgesit aan die res van die familie, hoe voel daardie persoon?  Uitgesluit, afgeskeep, ontmoedig?   Hoe groot word die versoeking om ook van daardie "verbode" kosse te eet?  Hoe groot word die stryd?  En besef die res van ons hoe daardie persoon dit werklik ervaar?

Ek dink nie mens kan regtig begrip hê daarvoor tensy mens in 'n soortgelyke situasie was nie.  Net soos ek nie iemand anders se pyn kan voel en ervaar nie.  Dis onmoontlik.  Ek kan dit bloot vergelyk met my persoonlike wedervaringe, wat beteken dis gekleur deur my eie swak en sterk punte.  

Maar mens kan probeer om bedagsaam te wees.  Mens kan empatie toon.  Mens kan oplettend wees en probeer vasstel waarmee iemand sukkel en seker maak dat jy nie veroorsaak dat daardie persoon struikel nie.  En dit verg opoffering.  

'n Sekere frase, wat my ma gedurig by ons ingeskerp het deur die jare, speel deur my gedagtes:  Liefde is nie soentjies en drukkies nie, liefde is opoffering.  

My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid. 1 Jhn 3:18







Friday, 16 August 2013

Aan die Vader dank en ere...

Julle ken tog hierdie pragtige lofsang...

Aan die Vader dank en ere, laat ons saam Sy lof besing.
Hy het al ons skuld vergewe, laat ons Hom hulde bring.
Hy's genadig en magtig, die Bewerker van ons heil.

Kom ons loof Hom, kom ons prys Hom, vir onverdiende seën.

Wel, my liewe vriende, hierdie was vanoggend ook my loflied gewees.

Vandat gangreen by my moeder gediagnoseer is het ons geweet dat nou, meer as ooit tevore, moet haar bloedsuikertelling afkom, anders is daar nie kans op genesing nie.  Nie dat daar voorheen geen poging was om suikervlakke te beheer nie, in teendeel, dit was 'n konstante stryd, maar met weinige sukses.  Teen alle doktersraad in, het ons die besluit die insulien is taboe en hoe gouer die pille uitgeskakel kan word, hoe beter.  Met baie hoop en gebed en blindelingse vertroue het ons 'n dieët gekry, spesiaal uitgewerk om gangreen te bestry, en dit begin volg.  Ek sê ons, want saam met hierdie dieët was ook heelwat inligting oor gesond eet in die algemeen en ons hele huishouding se eetgewoontes het ingrypend verander.  Elke laaste pakkie kitssop, al die souse, kunsmatige geurmiddels en gegeurde soute, al daardie goed en nog meer het ons uitgegooi.  Die kaas het gemuf, die blikkies kos word nou net klaargemaak, maar nie meer vervang nie.  Ons fokus het verskuif na baie groente, volgrane en minder vleise.  Onverwerkte en onverfynde kos.  Ons koop amper nooit meer brood nie, ek bak self, sonder enige botter, eiers of suiker.  Volgraan en rogbrode.  Met suurdeeg deesdae.  En weet julle hoe lekker is 'n gestoomde wortel?  Die natuurlike soet smaak van die wortel kom na vore, daar is geen noodsaak vir ekstra suiker nie.  Dit is soos een groot avontuurreis wat ons aangepak het, propvol uitdagings, maar met talle interessante en onverwagse verrassings.  Wanneer die bestandele op die spyskaart yl is, word mens gedwing om kreatief te wees. 

Om terug te kom na die rede vir hierdie inskrywing vanaand.  Tussendeur die laagtepunte is daar altyd straaltjies lig wat deurskyn en hoop gee.  Soos ons hierdie nuwe leefstyl aangepak het, het ons gewonder of dit sal werk, of is dit net nog een van die vele doodloopstrate.  Brokkies hoop het onverwags na vore gekom in bloedsuikertellings wat stadig, maar seker begin daal het. 
Die eerste vier weke het suikertellings gewissel tussen 14 en 18 (dis veronderstel om 6-8 te wees).  Dit was nie baie inspirerend nie, dit was heel "normaal".  Week 5 was dit meestal 11-12.  In week 6 het ons gejubel met die eerste telling onder 11 in jare.  Letterlik jare.  Ons weet nie hoeveel jare nie, maar twee keer daardie week was daar tellings van 10,x.  Dus het ons die versekering gekry dat hierdie dieët werk.  Geen pille of dieët die afgelope twintig jaar het my ma by 'n suikertelling van 10 gebring nie. 

Natuurlik is die stryd nog lank nie verby nie.  En dit gaan nie altyd goed nie.  Daar kan môreoggend weer 'n lesing van 13 wees.  Dis moontlik.  Maar wanneer daar jare lank aan jou voorgehou is dat dit onmoontlik is om suikervlakke af te bring sonder insulieninspuitings en pille elke dag omdat die "pankreas nie meer werk nie", dan is dit fantasties om hierdie wonderwerk te beleef, om te sien hoe die mens verkeerd bewys kan word, hoe mens met gebed en gesonde kos die "onmoontlike" kan vermag.  Onthou julle vir Daniël en sy drie vriende wat nie die koning se vet spyse wou eet nie? 

Wel, vanoggend is nog 'n mylpaal bereik.  'n Suikertelling van 9,9.  Vir die eerste keer in 15? 20? jaar, 'n lesing onder 10.  Weet julle wat?  8 lyk nie meer so onmoontlik of ver nie...

Aan die Vader dank en ere, laat ons saam Sy lof besing...  Dít was vanoggend my lied. 




Thursday, 1 August 2013

Vrees

Die een ding wat deesdae telkens vir my na vore kom is vrees.  Dis 'n emosie waarmee ek nie baie bekend was nie.  Baie kinders is bang vir die donker, maar ek was nooit nie.  Ek het deur die lewe gegaan met 'n vaste oortuiging dat almal my liefhet en dat daar niks is om te vrees nie. Saam met volwassenheid het die besef gekom dat so naïewe siening ver van die realiteite in 'n bose wêreld is, maar dit het nogtans nie vrees gebring nie.

Vreesagtigheid is vir my 'n baie, baie vreemde ervaring.  En dit het gekom in die vorm van 'n wond wat oënskynlik nie wil genees nie en al die implikasies wat daarmee gepaard gaan.  Elke keer wat ek daardie verband afhaal vrees ek vir wat ek dalk gaan sien.  Hoewel mens weet so tipe wond kan tot 'n jaar neem om te genees en dat mens geduldig moet wees, knaag daardie sê-nou-maar vrae.  Sê nou maar ons doen iets verkeerd?  Sê nou maar dis besig om erger te word en die wond genees nie?  Wat gebeur dan?  Ek dink dit lyk beter, ek dink daar groei vel - mens soek tog altyd daardie klein bietjie hoop om aan vas te hou - maar... sê nou maar ek dink verkeerd?  Dit en nog 'n honderd ander dinge knaag.

En so vreet die vrees aan 'n mens se siel.  

En jy voel hoe jy sink, soos Petrus wat sy oë op die storm gerig het.

En dan kom die vermaning:  Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?  (Mt 14:28-31)