Friday, 16 August 2013

Aan die Vader dank en ere...

Julle ken tog hierdie pragtige lofsang...

Aan die Vader dank en ere, laat ons saam Sy lof besing.
Hy het al ons skuld vergewe, laat ons Hom hulde bring.
Hy's genadig en magtig, die Bewerker van ons heil.

Kom ons loof Hom, kom ons prys Hom, vir onverdiende seën.

Wel, my liewe vriende, hierdie was vanoggend ook my loflied gewees.

Vandat gangreen by my moeder gediagnoseer is het ons geweet dat nou, meer as ooit tevore, moet haar bloedsuikertelling afkom, anders is daar nie kans op genesing nie.  Nie dat daar voorheen geen poging was om suikervlakke te beheer nie, in teendeel, dit was 'n konstante stryd, maar met weinige sukses.  Teen alle doktersraad in, het ons die besluit die insulien is taboe en hoe gouer die pille uitgeskakel kan word, hoe beter.  Met baie hoop en gebed en blindelingse vertroue het ons 'n dieët gekry, spesiaal uitgewerk om gangreen te bestry, en dit begin volg.  Ek sê ons, want saam met hierdie dieët was ook heelwat inligting oor gesond eet in die algemeen en ons hele huishouding se eetgewoontes het ingrypend verander.  Elke laaste pakkie kitssop, al die souse, kunsmatige geurmiddels en gegeurde soute, al daardie goed en nog meer het ons uitgegooi.  Die kaas het gemuf, die blikkies kos word nou net klaargemaak, maar nie meer vervang nie.  Ons fokus het verskuif na baie groente, volgrane en minder vleise.  Onverwerkte en onverfynde kos.  Ons koop amper nooit meer brood nie, ek bak self, sonder enige botter, eiers of suiker.  Volgraan en rogbrode.  Met suurdeeg deesdae.  En weet julle hoe lekker is 'n gestoomde wortel?  Die natuurlike soet smaak van die wortel kom na vore, daar is geen noodsaak vir ekstra suiker nie.  Dit is soos een groot avontuurreis wat ons aangepak het, propvol uitdagings, maar met talle interessante en onverwagse verrassings.  Wanneer die bestandele op die spyskaart yl is, word mens gedwing om kreatief te wees. 

Om terug te kom na die rede vir hierdie inskrywing vanaand.  Tussendeur die laagtepunte is daar altyd straaltjies lig wat deurskyn en hoop gee.  Soos ons hierdie nuwe leefstyl aangepak het, het ons gewonder of dit sal werk, of is dit net nog een van die vele doodloopstrate.  Brokkies hoop het onverwags na vore gekom in bloedsuikertellings wat stadig, maar seker begin daal het. 
Die eerste vier weke het suikertellings gewissel tussen 14 en 18 (dis veronderstel om 6-8 te wees).  Dit was nie baie inspirerend nie, dit was heel "normaal".  Week 5 was dit meestal 11-12.  In week 6 het ons gejubel met die eerste telling onder 11 in jare.  Letterlik jare.  Ons weet nie hoeveel jare nie, maar twee keer daardie week was daar tellings van 10,x.  Dus het ons die versekering gekry dat hierdie dieët werk.  Geen pille of dieët die afgelope twintig jaar het my ma by 'n suikertelling van 10 gebring nie. 

Natuurlik is die stryd nog lank nie verby nie.  En dit gaan nie altyd goed nie.  Daar kan môreoggend weer 'n lesing van 13 wees.  Dis moontlik.  Maar wanneer daar jare lank aan jou voorgehou is dat dit onmoontlik is om suikervlakke af te bring sonder insulieninspuitings en pille elke dag omdat die "pankreas nie meer werk nie", dan is dit fantasties om hierdie wonderwerk te beleef, om te sien hoe die mens verkeerd bewys kan word, hoe mens met gebed en gesonde kos die "onmoontlike" kan vermag.  Onthou julle vir Daniël en sy drie vriende wat nie die koning se vet spyse wou eet nie? 

Wel, vanoggend is nog 'n mylpaal bereik.  'n Suikertelling van 9,9.  Vir die eerste keer in 15? 20? jaar, 'n lesing onder 10.  Weet julle wat?  8 lyk nie meer so onmoontlik of ver nie...

Aan die Vader dank en ere, laat ons saam Sy lof besing...  Dít was vanoggend my lied. 




No comments:

Post a Comment