Wednesday, 15 September 2021

Die Leeu en die Lam

 deur John Piper

 

Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig. Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring. En op sy Naam sal die heidene hoop. 

Mat 12:18-21, gekwoteer uit Jesaja 42

 

 

Die Vader se siel jubel met blydskap oor Sy Seun se diensknegtelike sagmoedigheid, deernis en medelye.

Wanneer ’n riet geknak en op die punt is om te breek, sal die Kneg dit sagkens regop hou totdat dit genees.  Wanneer ’n lamppit rook en skaars enige hitte oor het, sal die Kneg dit nie afknyp nie, maar met ’n bakhand beskerm en sagkens blaas totdat dit weer brand.

Daarom roep die Vader uit, “Kyk, my Kneg in wie my siel ’n welbehae het!”  Die waarde en die skoonheid van die Seun is nie afkomstig slegs van Sy majesteit nie, ook nie slegs van Sy deernis en medelye nie, maar van die wyse waarop hierdie eienskappe saamsmelt in perfekte verhouding met mekaar.  

Wanneer die engel uitroep in Openbaring 5:2, “Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek?” kom die antwoord, “Moenie ween nie;  kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek” (Openbaring 5:5).

God het die sterkte en krag van die Leeu van Juda lief.  Daarom ag God Hom waardig om die boeke van die geskiedenis te open en die laaste dae te ontvou.

Maar hierdie is nog nie die hele prentjie nie.  Hoe het die Leeu oorwin?  Die volgende vers beskryf Sy voorkoms:  “En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ’n Lam asof Hy geslag is” (Openbaring 5:6).  Jesus is die Vader se verlustiging waardig, nie net as die Leeu van Juda nie, maar ook as die Lam geslag.

Hierdie is die eiesoortige glorie van Jesus Christus, God se vleesgeworde Seun – die verstommende verwewing van majesteit en deernis. 

 

 

John Piper is stigter en leeraar van desiringGod.org asook die kansellier van Bethlehem College & Seminary. Hy het die Bethlehem Baptiste Kerk in Minneapolis vir meer as dertig jaar as pastoor bedien en is die outeur van meer as vyftig boeke. Sy preke, artikels, boeke, ens. Is gratis beskikbaar by desiringGod.org.

Vertaling van The Lion and the Lamb, Solid Joys daaglikse oordenking, 31 Augustus 2021. 

© Desiring God Foundation.  Bron: desiringGod.org.

 

Friday, 15 August 2014

Versterkte stede


Mure en torings rondom die ou dorpie, Rothenburg, Duitsland.



Wanneer mens jouself in Europa en ander ou lande bevind, vind mens ook talle ou dorpies, gewoonlik op heuwels, met sterk, hoë mure omring.  Daar is wagposte waar wagte kon uitkyk vir gevaar.  In kort, mure bied weerstand en beskerming teen aanslae van buite, van die vyand.   Indien die wagte wakker is word die inwoners van die dorpie betyds gewaarsku wanneer daar gevaar is en hulle kan hul voorberei en gereed wees op die aanslag.  Vanaf die muur kan geveg word teen die vyand, in relatiewe veiligheid.  Indien die stad nie ommuur of bewaak is nie, kan die vyand lustig amok maak binne die vesting. 
Dit laat my dink aan ons geestelike lewe.  

Die weg van die Jahweh is vir die opregte ‘n vesting, maar ‘n ondergang vir die werkers van ongeregtigheid.    
Spreuke 10 : 29

En hy het gesê:  Jahweh is my rots en my bergvesting en my redder;  God is my rots by wie ek skuil;  my skild en die horing van my heil, my rotsvesting en my toevlug, my verlosser;  van geweld het U my verlos.  
 2 Samuel 22 : 2 - 3

In Vader Jahweh is ons toevlug, ons skuiling, ons beskerming, ons rus.  Ons verhouding met Vader is soos die vesting se mure wat ons moet bou en in stand hou.  En net soos ‘n soldaat in tyd van vrede opgelei word om te veg, so moet die stede herstel en versterk word, en mure gebou word in tye van rus en vrede.  Daar is geen tyd tydens aanslae om te leer veg nie, of om ‘n verhouding met Jahweh op te bou nie.  Ons moet geoefen moet wees in die wapenrusting van God (Efes 6) vóór die aanslag.  Ons moet die mure bou en versterk vóór die vyand aanval.

En Abía het ontslaap met sy vaders en is begrawe in die stad van Dawid, en sy seun Asa het in sy plek koning geword.  In sy dae het die land tien jaar gerus.  En Asa het gedoen wat goed en reg was in die oë van Jahweh sy God:  hy het die vreemde altare en die hoogtes verwyder en die klippilare stukkend gebreek en die heilige boomstamme omgekap en aan Juda gesê om Jahweh, die God van hulle vaders, te soek en om die wet en die gebod te doen.  Ook het hy uit al die stede van Juda die hoogtes en die sonpilare verwyder, en die koninkryk het gerus onder hom.  Verder het hy versterkte stede gebou in Juda, want die land was rustig; en daar was geen oorlog teen hom in daardie jare nie, omdat Jahweh hom rus verskaf het.  Daarom het hy aan Juda gesê:  Laat ons hierdie stede opbou en met ‘n muur omring en met torings, poorte en grendels, terwyl die land nog vry voor ons lê;  want ons het Jahweh onse God gesoek—ons het gesoek, en Hy het ons rus verskaf rondom.  Hulle het toe gebou en was voorspoedig.
2 Kronieke 14 : 1 – 7

Belangrik om te let is watter mure ons bou, watter stede ons versterk.  Is dit ‘n verhouding met Vader Jahweh of met die wêreld?  So seker as wat die vyand ons mure gaan aanval en beproef, so seker kan ons ook weet dat énige wêreldse vesting waaraan ons help bou sal verseker eendag deur Jahweh afgebreek word.   

Al sou Babel in die hemel opklim, en al sou hy die hoogte van sy vesting versterk—van My af sal verwoesters oor hom kom, spreek die Jahweh.   
Jeremia 51 : 53

Tye van rus is juis tye wat Vader aan ons bied om ons verhouding met Hom te versterk.  Ongelukkig is tye van rus, wanneer alles goed gaan, ook die tye wanneer ons neig om ons verhouding met ons Skepper te verwaarloos, dis die tye wanneer ons so maklik vergeet en afdwaal.  Ons moet onthou dat die wêreld ons as gelowiges voortdurend dophou.  Hulle wag vir die dag van onheil sodat hulle ons en ons Skepper kan verneder, spot en verkleineer.  Wanneer ons ons verhouding met Jahweh verwaarloos, verswak die mure van ons geestelike weerstand en dit bied die vyand maklike toegang.  Dit maak ons ‘n voorwerp tot smaad.

Daarop sê ek vir hulle: Julle sien die nood waar ons in is, dat Jerusalem woes lê en sy poorte met vuur verbrand is;  kom, laat ons die muur van Jerusalem opbou, dat ons nie langer ‘n voorwerp van smaad kan wees nie.  En ek vertel hulle van die hand van my God wat goed was oor my, en ook van die woorde van die koning wat hy my gesê het.  En hulle sê:  Ons sal ons klaarmaak en bou!  En hulle het hulle hande sterk gemaak vir die goeie werk.
Nehemia 2 : 17 - 18

Jahweh sal elke stryd vir ons stry, mits ons by Hom en in Hom bly.  Dan kan Sy sterkte deur ons geopenbaar word in die wêreld en word Hy verheerlik in elke oorwinning oor die Bose.  Nie deur ons krag nie, maar deur Vader Jahweh se krag alleen.  

Ek skryf aan julle, vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af is. Ek skryf aan julle, jongmanne, omdat julle die Bose oorwin het. Ek skryf aan julle, kinders, omdat julle die Vader ken.
Ek het aan julle geskrywe, vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af is. Ek het aan julle geskrywe, jongmanne, omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het.

Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.  En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.
1 Johannes 2 : 13 – 17



Asa het gedoen wat goed en reg was in die oë van Jahweh sy God: hy het die vreemde altare en die hoogtes verwyder en die klippilare stukkend gebreek en die heilige boomstamme omgekap en aan Juda gesê om Jahweh, die God van hulle vaders, te soek en om die wet en die gebod te doen.  Ook het hy uit al die stede van Juda die hoogtes en die sonpilare verwyder, en die koninkryk het gerus onder hom.  

Verder het hy versterkte stede gebou in Juda, want die land was rustig;  en daar was geen oorlog teen hom in daardie jare nie, omdat Jahweh hom rus verskaf het.  Daarom het hy aan Juda gesê: Laat ons hierdie stede opbou en met ‘n muur omring en met torings, poorte en grendels, terwyl die land nog vry voor ons lê;  want ons het Jahweh onse God gesoek—ons het gesoek, en Hy het ons rus verskaf rondom.  

Hulle het toe gebou en was voorspoedig.
2 Kron 14 : 1 - 7

Thursday, 2 January 2014

Trane van vreugde, want hoop en geloof word nie beskaam nie...

2 Januarie 2014 is 'n datum wat ek waarskynlik lank sal onthou.  Ek het lanklaas iets hier geskryf.  Die lewe loop sy loop en mens bly besig.  Maar vanaand moet ek deel, want die vreugdegevoel wat ek dra kan ek onmoontlik vir myself hou.

En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk,
en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop;
en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

Rom 5:3-5

Ek het vanaand, soos feitlik elke ander aand die afgelope 6 en 'n half maande so om en by nege uur kombuis toe gegaan om my ma se voetbad reg te kry.  Terwyl die voetbad afkoel haal ek die verband af en masseer die voet en toon waar die gangreen al merkbaar afgeneem het.  Die area is al kleiner, maar daar sit nog 'n dikkerige kors van dooie vel waaronder daar dikwels etter uitgekom het, maar die laaste tyd nie meer so baie nie.  En die kors het al hoe losser begin word.  So die vraag wat lankal knaag is, wat is onder daardie dooie vel?  Is dit heel, is dit rou, is dit gesond, is dit dalk 'n gat ingevrot en weggevreet deur die gangreen?  Ek het bly vasklou aan die hoop dat daar nuwe vel onder die dooie vel ingroei en dat dit die rede is waarom die kors begin loskom.  Maar daar was geen manier om te weet nie.  Dis 'n beproewing van, en les in, geduld!  

Wel, my liewe vriende, vandag na die voetbad het ek die mooiste ding gewaar.  Die stuk dooie vel is los, baie los, nie genoeg om al af te gaan nie, maar uiteindelik los genoeg om op te lig.  Onder die dooie vel:  nuwe, gesonde, perfekte vel!  Genesing!  Trane van vreugde kan ek nie keer nie.  Wanneer mens 'n alternatiewe roete volg as tradisionele medisyne, is dit soms 'n baie eensame pad.  Hoeveel mense ken julle wat 'n voetbad maak met ... murgpampoene?  Ja.  Korrek.  Murgpampoentjies.  Zucchini.  Noem dit wat jy wil.  Waar is die mense wat jou sal moed inpraat met die versekering dat hierdie kuur vir hulle gewerk het?  Wel, ek weet nie van een enkele so persoon nie.  Ons het raad gevolg van 'n geneeskundige in 'n ander land wat glo genesing geskied deur die regte kosse te eet.  En wat voetbaddens en kompresse aanbeveel wat mens in jou eie kombuis kan maak sonder enige eksotiese of medisinale bykomstighede.  Ons enigste kommunikasie deur middel van e-pos.

Dis 'n pad wat ons in geloof aangepak het.  'n Pad waar ons mekaar dikwels moet moed inpraat.  'n Pad waarin ek myself telkens moet herinner om my oë op Jahshua te hou en nie op die golwe nie.  Daar was 'n dag wat ek die fotos gaan uitpluk het net om visuele versekering te hê dat die wond tóg besig is om kleiner te word.  Dankie tog vir daardie goue stukkie raad om gereeld fotos te neem, dit het ons konkrete bewys gegee dat daar tog verbetering is op 'n dag wat ons werklik baie moeg en moedeloos was. 

Dis weliswaar nog nie die einde van hierdie pad nie.  Daar is nog altyd die kanker wat knaag en vele vraagtekens laat.  Maar vanaand wil ek die onsekerhede opsy skuif en net fokus op die wonder van gangreen wat genees.  Met vreugde in die hart en 'n innige gebed van dankbaarheid.

Ek wil die Naam van God prys met ‘n lied en Hom groot maak met danksegging.
Psa 69:31



Sunday, 25 August 2013

Om liefde uit te lewe




Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie.  Romeine 14:21

So saam met die gesondheidsdieët het hierdie gedagte baie sterk tuisgekom by my.  Ek vra myself immers af, hoe voel die persoon wat op die dieët is wanneer die res almal van die "lekker" kos eet?  Wanneer sekere van mens se gunsteling maaltye geskuif word na die kategorie "mag-nie-geëet-word-nie", en dit word voorgesit aan die res van die familie, hoe voel daardie persoon?  Uitgesluit, afgeskeep, ontmoedig?   Hoe groot word die versoeking om ook van daardie "verbode" kosse te eet?  Hoe groot word die stryd?  En besef die res van ons hoe daardie persoon dit werklik ervaar?

Ek dink nie mens kan regtig begrip hê daarvoor tensy mens in 'n soortgelyke situasie was nie.  Net soos ek nie iemand anders se pyn kan voel en ervaar nie.  Dis onmoontlik.  Ek kan dit bloot vergelyk met my persoonlike wedervaringe, wat beteken dis gekleur deur my eie swak en sterk punte.  

Maar mens kan probeer om bedagsaam te wees.  Mens kan empatie toon.  Mens kan oplettend wees en probeer vasstel waarmee iemand sukkel en seker maak dat jy nie veroorsaak dat daardie persoon struikel nie.  En dit verg opoffering.  

'n Sekere frase, wat my ma gedurig by ons ingeskerp het deur die jare, speel deur my gedagtes:  Liefde is nie soentjies en drukkies nie, liefde is opoffering.  

My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid. 1 Jhn 3:18







Friday, 16 August 2013

Aan die Vader dank en ere...

Julle ken tog hierdie pragtige lofsang...

Aan die Vader dank en ere, laat ons saam Sy lof besing.
Hy het al ons skuld vergewe, laat ons Hom hulde bring.
Hy's genadig en magtig, die Bewerker van ons heil.

Kom ons loof Hom, kom ons prys Hom, vir onverdiende seën.

Wel, my liewe vriende, hierdie was vanoggend ook my loflied gewees.

Vandat gangreen by my moeder gediagnoseer is het ons geweet dat nou, meer as ooit tevore, moet haar bloedsuikertelling afkom, anders is daar nie kans op genesing nie.  Nie dat daar voorheen geen poging was om suikervlakke te beheer nie, in teendeel, dit was 'n konstante stryd, maar met weinige sukses.  Teen alle doktersraad in, het ons die besluit die insulien is taboe en hoe gouer die pille uitgeskakel kan word, hoe beter.  Met baie hoop en gebed en blindelingse vertroue het ons 'n dieët gekry, spesiaal uitgewerk om gangreen te bestry, en dit begin volg.  Ek sê ons, want saam met hierdie dieët was ook heelwat inligting oor gesond eet in die algemeen en ons hele huishouding se eetgewoontes het ingrypend verander.  Elke laaste pakkie kitssop, al die souse, kunsmatige geurmiddels en gegeurde soute, al daardie goed en nog meer het ons uitgegooi.  Die kaas het gemuf, die blikkies kos word nou net klaargemaak, maar nie meer vervang nie.  Ons fokus het verskuif na baie groente, volgrane en minder vleise.  Onverwerkte en onverfynde kos.  Ons koop amper nooit meer brood nie, ek bak self, sonder enige botter, eiers of suiker.  Volgraan en rogbrode.  Met suurdeeg deesdae.  En weet julle hoe lekker is 'n gestoomde wortel?  Die natuurlike soet smaak van die wortel kom na vore, daar is geen noodsaak vir ekstra suiker nie.  Dit is soos een groot avontuurreis wat ons aangepak het, propvol uitdagings, maar met talle interessante en onverwagse verrassings.  Wanneer die bestandele op die spyskaart yl is, word mens gedwing om kreatief te wees. 

Om terug te kom na die rede vir hierdie inskrywing vanaand.  Tussendeur die laagtepunte is daar altyd straaltjies lig wat deurskyn en hoop gee.  Soos ons hierdie nuwe leefstyl aangepak het, het ons gewonder of dit sal werk, of is dit net nog een van die vele doodloopstrate.  Brokkies hoop het onverwags na vore gekom in bloedsuikertellings wat stadig, maar seker begin daal het. 
Die eerste vier weke het suikertellings gewissel tussen 14 en 18 (dis veronderstel om 6-8 te wees).  Dit was nie baie inspirerend nie, dit was heel "normaal".  Week 5 was dit meestal 11-12.  In week 6 het ons gejubel met die eerste telling onder 11 in jare.  Letterlik jare.  Ons weet nie hoeveel jare nie, maar twee keer daardie week was daar tellings van 10,x.  Dus het ons die versekering gekry dat hierdie dieët werk.  Geen pille of dieët die afgelope twintig jaar het my ma by 'n suikertelling van 10 gebring nie. 

Natuurlik is die stryd nog lank nie verby nie.  En dit gaan nie altyd goed nie.  Daar kan môreoggend weer 'n lesing van 13 wees.  Dis moontlik.  Maar wanneer daar jare lank aan jou voorgehou is dat dit onmoontlik is om suikervlakke af te bring sonder insulieninspuitings en pille elke dag omdat die "pankreas nie meer werk nie", dan is dit fantasties om hierdie wonderwerk te beleef, om te sien hoe die mens verkeerd bewys kan word, hoe mens met gebed en gesonde kos die "onmoontlike" kan vermag.  Onthou julle vir Daniël en sy drie vriende wat nie die koning se vet spyse wou eet nie? 

Wel, vanoggend is nog 'n mylpaal bereik.  'n Suikertelling van 9,9.  Vir die eerste keer in 15? 20? jaar, 'n lesing onder 10.  Weet julle wat?  8 lyk nie meer so onmoontlik of ver nie...

Aan die Vader dank en ere, laat ons saam Sy lof besing...  Dít was vanoggend my lied. 




Thursday, 1 August 2013

Vrees

Die een ding wat deesdae telkens vir my na vore kom is vrees.  Dis 'n emosie waarmee ek nie baie bekend was nie.  Baie kinders is bang vir die donker, maar ek was nooit nie.  Ek het deur die lewe gegaan met 'n vaste oortuiging dat almal my liefhet en dat daar niks is om te vrees nie. Saam met volwassenheid het die besef gekom dat so naïewe siening ver van die realiteite in 'n bose wêreld is, maar dit het nogtans nie vrees gebring nie.

Vreesagtigheid is vir my 'n baie, baie vreemde ervaring.  En dit het gekom in die vorm van 'n wond wat oënskynlik nie wil genees nie en al die implikasies wat daarmee gepaard gaan.  Elke keer wat ek daardie verband afhaal vrees ek vir wat ek dalk gaan sien.  Hoewel mens weet so tipe wond kan tot 'n jaar neem om te genees en dat mens geduldig moet wees, knaag daardie sê-nou-maar vrae.  Sê nou maar ons doen iets verkeerd?  Sê nou maar dis besig om erger te word en die wond genees nie?  Wat gebeur dan?  Ek dink dit lyk beter, ek dink daar groei vel - mens soek tog altyd daardie klein bietjie hoop om aan vas te hou - maar... sê nou maar ek dink verkeerd?  Dit en nog 'n honderd ander dinge knaag.

En so vreet die vrees aan 'n mens se siel.  

En jy voel hoe jy sink, soos Petrus wat sy oë op die storm gerig het.

En dan kom die vermaning:  Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?  (Mt 14:28-31)






Sunday, 28 July 2013

Wanneer die vlees swak is




En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê:  My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan;  nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.  En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus:  So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie?  Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.  Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.  Mat 26:39-41 

Soms, veral wanneer die vlees swak is en jy voel oorweldig, wonder mens onwillekeurig hoekom sekere dinge oor jou pad gebring word.  Kon die lewe nie maar voortgegaan het soos "normaal" nie?  Kon hierdie beker van beproewing ons nie maar verbygegaan het nie?

Tog, in jou hart weet jy reeds wat die antwoord op daardie vraag is.  Die Pottebakker is besig om intens te werk met die klei.  Dis 'n proses van verandering en vernuwing.  Dis 'n tydperk waarin mens opnuut leer om totaal op Vader te steun.  Dis 'n proses wat slegs plaasvind wanneer ons swak is en ons wil oorlaat in ons Skepper se Hand.  


En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want My krag word in swakheid volbring... Daarom het ek behae in swakhede...want as ek swak is, dan is ek sterk.  2 Kor 12:9-10